7 sterf toe myn ineenstort
2010-07-31 02:12
Maputo – ‘n Baba en ses ander mense is dood toe ‘n verlate myn ineengestort het, het die onafhanklike media in Mosambiek Vrydag berig.
Die baba, vier vroue en twee mans is dood en ses ander is beseer terwyl hulle Woensdag tantaliet uit ‘n myn gedelf het in die sentrale provinsie van Zambezia, het Mediafax berig.
Die mynmaatskappy Recursos de Tantalite Lda het die myn vyf jaar lank met Suid-Afrikaanse maatskappye bestuur.
Die name van dié maatskappye is nie bekend gemaak nie.
Volgens die berig het die plaaslike bevolking die minerale by die verlate myn gesoek sodat hulle dit weer terug aan die mynmaatskappy kan verkoop.
Die 18 maande oue baba is doodgevind terwyl sy nog aan haar ma se rug vasgebind was.
Tantaliet is ‘n seldsame donker mineraal wat gebruik word om elektroniese komponente te maak.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA