436 000 vlugtelinge in Mali
2012-08-16 23:00
Dakar – Nagenoeg 436 000 mense is al vanjaar in Mali verplaas ná verskeie aanvalle deur rebelle tydens ‘n staatsgreep mense uit hul huise gedwing het.
“Teen 10 Augustus 2012 is 435 624 mense al in Mali uit hul wonings gedryf,” het die Verenigde Nasies (VN) se kantoor vir die koördinering van humanitêre sake (OCHA) bekend gemaak.
“Uit hierdie vlugtelinge het 261 624 al by die VN se hoë kommissaris vir toevlug in buurlande geregistreer, terwyl 174 000 mense in dié land verplaas is.”
Sedert ‘n militêre staatsgreep op 22 Maart het verskeie rebellegroepe, soos die Al-Kaïda-gekoppelde Aqim, beheer oor talle dorpies in Mali geneem het.
Volgens OCHA is die noordelike woestyngebied die ergste geaffekteer. Sowat 105 000 mense het al uit die gebied gevlug.
OCHA se verslag het ook die gesondheid- en voedselkrisis, wat besig om die land te tref, uitgewys. Cholera het naby Gao uitgebreek en het al 11 mense se lewens geëis.
Cholera is al by sowat 140 mense diagnoseer.
Die Sahel-streek word deur ‘n groot voedselkrisis in die gesig gestaar ná mislukte oeste verlede jaar miljoene mense honger gelaat het. Die geweld in Mali het nog erger druk op voedselbronne in die streek geplaas.
Die kos en landbou-organisasie het gewaarsku dat “noodsaaklike voedselhulp aan sowat 4,6 miljoen mense voorsien moet word.”
'n Sprinkaanplaag in Noord-Mali is ook aan die toeneem, wat landbouproduksie bedreig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP