35 sterf in onluste in Nigerië
2009-12-29 16:52
Bauchi, Nigerië - Gevegte tussen Islamitiese militante en veiligheidsmagte in die noorde van Nigerië het tot die dood van ten minste 35 mense gelei.
Volgens Mohammed Barau, polisiewoordvoerder van die Bauchi-staat, het lede van die Kata Kalo-sekte onder mekaar begin baklei en die blaam vir hulle leier se ernstige siektetoestand op mekaar gelê.
Hy het ook aangevoer dat vroeëre berigte dat die inhegtenisname van die leier tot die onluste gelei het, nie korrek was nie.
Die geveg het vinnig na die strate van 'n arm buurt naby die stad Bauchi versprei, en militêre magte het probeer om dit daar te stuit, het Barau gesê.
Volgens amptenare was die militante gewapen met spiese en pyle.
Barau sê veiligheidsmagte het later na die gebied teruggekeer, maar "voor die polisie daar kon uitkom was almal reeds dood."
Volgens Barau was die gebied teen Dinsdag weer onder beheer.
"Dinge is weer terug na normaal. Almal gaan weer hul gang," het hy gesê.
- AP