25 lyke op Libiese vlugtelingeboot ontdek
2011-08-01 15:12
Rome – Die Italiaanse kuswag het die lyke van 25 mense in die enjinkamer van ‘n boot met vlugtelinge vanaf Libië gekry.
Altesaam 271 mense het op die boot gereis wat Maandag by die Lampedusa-eiland aangekom het, het hawebeamptes gesê.
“Dit is 25 lyke van mans wat moontlik van sub-Sahara-Afrika afkomstig is,” het Antonio Morana, die hawemeester van die Lampedusa-hawe, gesê.
“Die oorsaak van die sterftes word steeds ondersoek."
Volgens Morana het die vlugtelinge aan boord beweer hulle het drie dae te vore van Libië af begin seil.
Aanklaers, wat ‘n saak geopen het, het gesê dit wil voorkom of die mans versmoor het.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP