25 Ontvoerde Chinese werkers vrygelaat
2012-02-01 17:54
Beijing – Egiptiese Bedoeïene het die 25 Chinese werkers wat in sentraal-Sinai ontvoer is, vrygelaat, het die Chinese staatsmedia beamptes van die Chinese ambassade Woensdag aangehaal.
Die werkers, wat by 'n sementfabriek werk, is ná 15 uur vrygelaat en is in "goeie gesondheid," het die nuusangentskap Xinhua berig.
Die werkers, wat in 'n bus gery het, was Dinsdag op pad na die fabriek toe hulle deur Bedoeïene van die pad afgetrek is.
Die Bedoeïene het glo die pad versper en geëis dat hul familielede uit die gevangenis vrygelaat word," het ooggetuies vroeër vertel.
Die Bedoeïene-betogers het gesê hulle is familie van mense wat in hegtenis geneem is op aanklagtes wat verband hou met die bomontploffing wat in 2004 by die Taba-oord in die Rooi See plaasgevind het. Meer as 30 mense is in dié aanval dood.
Chinese beamptes het intussen gesê die 29 werkers wat Saterdag in Soedan ontvoer is, word steeds deur die Sudan People Liberation Army (SPLA) aangehou ten spyte van berigte in Soedan dat 14 van die werkers reeds vrygelaat is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA