25 000 vlug van Soedan na Ethiopië
2011-09-27 13:15
Geneva – Bykans 25 000 mense het die afgelope drie weke uit Soedan se geweldgeteisterde Blue Nile-staat na Ethiopië gevlug terwyl gevegte tussen die Soedannese weermag en rebelle voortduur, het die Verenigde Nasies (VN) se vlugtelingsagentskap (UNHCR) Dinsdag gesê.
“Sedert 3 September, toe die toestroming na Etiopië begin het, het byna 25 000 vlugtelinge toevlug in Ethiopië gevind,” het Adrian Edwards, ‘n woordvoerder vir die VN se hoë kommissaris vir vlugtelinge, gesê.
“Met vyandigheid steeds aan die orde van die dag in Soedan se Blue Nile-staat, het ons verwag dat die hoeveelheid mense wat soontoe gaan, nog meer gaan word,” het hy gesê.
Die UNHCR en drie ander agentskappe het ‘n gesamentlike versoek vir noodpakette van $18.3 miljoen (sowat R144 miljoen) uitgereik om die verwagte 35 000 vlugtelinge te ondersteun.
Talle van die vlugtelinge het van die Kurmuk-grenspos na Ethiopië gegaan en slaap in die oopte in nabygeleë dorpies.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP