20 kinders in bokse by grenspos gevind
2010-06-28 19:01
Maputo, Mosambiek - Die polisie het sowat 20 kinders gevind wat in kartonbokse weggesteek was agter in ‘n vragmotor op die Komatipoort-grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek, het ‘n webtuiste Maandag berig.
Die Suid-Afrikaanse polisie het die kinders ontdek wat glo tussen die ouderdomme van nege en 16 is, het die Mosambiekse aanlynnuusbron, Canalmoz, berig.
“Die kinders is reeds ‘n week of twee gelede gevind, maar owerhede het die inligting geheim gehou. Niemand wil daaroor praat nie, want almal is bang,” het die webtuiste se redakteur, Fernando Veloso, aan AFP gesê.
“Ons bron is ‘n beampte vanaf ‘n Suid-Afrikaanse instituut en ons kan nie sy identiteit bekend maak nie.”
Die kinders, ses vanaf Mosambiek en sommiges van Thailand, word nou by ‘n plek van veiligheid in Suid-Afrika versorg.
Volgens Veloso is hy deur die Mosambiekse regering genader om sy bronne te onthul.
“Hulle wou nie eers weet wat van die kinders geword het nie,” het hy gesê.
‘n Mosambiekse beampte het gesê dat hy geen inligting rondom die voorval het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP