2 000 mynwerkers staak in Zambië
2011-10-06 18:59
Lusaka – Sowat 2 000 Zambiese werkers by NFC Afrika Mining, wat grotendeels deur China se Nonferrous Metals Mining besit word, het begin staak twee weke nadat die nuwe president verkies is.
Die president het belowe dat die omstandighede in myne wat deur China beheer word, sal verbeter.
Werkers het hul poste verlaat terwyl die unie en die bestuur van die kopermyn gereed maak om in November oor lone te onderhandel.
“Hulle het nou vir die tweede opeenvolgende dag geweier om ondergrond te gaan. Ons het hulle gevra om weer na hulle poste terug te keer, want hul salarisse sal volgende maand bespreek word,” het Goodwell Kaluba, die sekretaris-generaal van die Nasionale Unie van Myne en Geallieerde Werkers, Donderdag gesê.
Michael Sata het verlede maand die Zambiese verkiesing gewen en het buitelandse beleggers gekritiseer en belowe om hul werknemers se omstandighede te verbeter.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters