WB-onttrekkingsimptome tref SA
2010-07-13 11:05
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Kaapstad – Geïrriteerd? Hartseer? Voel jy leeg en alleen? Jy mag dalk Wêreldbeker-onttrekkingsimptome hê.
Suid-Afrika het sy aanbieding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi summa cum laude geslaag nadat Fifa ‘n byna perfekte nege uit 10 vir dié land se pogings gegee het.
Maar nou sukkel Suid-Afrikaners met die vraag: “Hoe kry ek my lewe terug?”
“Die Wêreldbeker-toernooi het ‘n fantastiese, natuurlike impak op die gemoed tot gevolg gehad,” meen Helgo Schomer, ‘n sielkundige in Kaapstad.
“Nou moet ons iets kry om dit te vervang. Want in slegs 31 dae en ‘n paar wedstryde was die Suid-Afrikaners verslaaf aan hierdie euforie.”
Suid-Afrika het die kans aangegryp om die wêreld te verwelkom en vir ‘n oomblik uit die skadu van apartheid beweeg.
Die land se kleurgrense is afgebreek tydens die maandlange toernooi. Volgens Schomer is hierdie tipe verskynsel uiters skaars.
“Ons is sosiale diere. Ons moet erken dat hierdie ervaring nie met enigiets anders vervang kan word nie,” het hy gesê.
“Die Wêreldbeker het gehelp dat ons van al ons alledaagse probleme vergeet vir ‘n oomblik.”
Volgens Charl Davids, van die sielkunde departement aan die Universiteit van die Wes-Kaap, sal mense nou ietwat depressief voel omdat alles na normaal terugkeer.
Suid-Afrika het jare lank reeds uitgesien na een van die grootste sportbyeenkomste in die wêreld en nou is dit skielik verby.
“Hierdie is normaal ná so ‘n groot byeenkoms,” het Davids gesê.
Suid-Afrikaners word aangemoedig om die gees, wat tydens die toernooi geheers het, te laat voortleef.
“Dit gaan ‘n tydjie neem, maar ons sal gou weer begin beter voel,” het Schomer gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP