WB 2010-bal behoorlik aan rol
2010-03-03 10:07
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Eduan Roos
Johannesburg - Met die eerste skote om die kroon van wêreldsokker wat oor net minder as 100 dae klap, kry 27 aanspraakmakers Woensdagaand reeds kans om hul geskut te toets.
Met die uitsondering van Brasilië, wat Dinsdagaand reeds met Ierland kragte gemeet het, is al die gunstelinge vir WB 2010 boonop slaags.
Diego Maradona sal hoop sy onstuimige tyd eindig wanneer Argentinië Duitsland in München pak.
Met supersterre soos Lionel Messi, Carlos Tevez en Gabriel Henze in sy geledere kan dit wel die geval wees vir dié beleërde breier, wat reeds meer as 100 spelers gekies het sedert sy aanstelling anderhalf jaar gelede.
Die Duitsers se afrigter, Joachim Loew, sal sy soektog na geskikte middelveld-maats vir Michael Ballack en Bastian Schweinsteiger voortsit te midde van ’n dispuut met die land se sokkerbase oor die verlenging van sy kontrak.
Terselfdertyd kan ’n erg ontwrigte Engelse span hom maklik vasloop teen die Afrikabeker-kampioen, Egipte.
Die Engelse se opmars na ’n eerste Wêreldbeker-triomf sedert 1966 dreig om te ontspoor, met John Terry wat pas van sy kapteinskap gestroop is ná die Wayne Bridge-debakel.
Fabio Capello se eerstekeuse- verdedigers – Glen Johnson, Rio Ferdinand en Ashley Cole – sukkel boonop almal met beserings.
Intussen kan Spanje se voorbereiding beswaarlik beter verloop, met die afrigter, Vicente del Bosque, wat vanaand straks vir Fernando Torres, Cesc Fabregas, David Villa én Xabi Alonso kan loslaat op ’n Franse span wat eers vir WB 2010 kon kwalifiseer nadat Thierry Henry op omstrede wyse “handjie bygesit het”.
- Die Burger