Versigtig met die vuvuzelas, maan Danny
2010-05-28 00:38
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Retha Grobbelaar en Waldimar Pelser, Beeld
Johannesburg - Vuvuzelas sal by alle WB 2010-wedstryde verbied word as rasende ondersteuners dié sokkertrompette op die speelveld sou gooi of mekaar daarmee takel, het sokkerbase gister gesê.
By Bafana Bafana se wedstryd gisteraand teen Colombia voor sowat 75 000 toeskouers in Soccer City, buite Johannesburg, sou boonop getoets word of vuvuzelas se oorverdowende geraas die wedstryd te veel ontwrig.
Die openingswedstryd word vanmiddag oor presies twee weke daar gespeel en die tweede WB-span, Brasilië, het reeds gister in die land aangekom.
“As enige vuvuzela op die speelveld land uit woede is dit die einde van die vuvuzela,” het Danny Jordaan, uitvoerende hoof van die plaaslike reëlingskomitee, gister aan joernaliste in Sandton, Johannesburg, gesê. Sodra die instrument ’n wapen word, sal dit “by die volgende wedstryd verbied word”.
Tydens die Konfederasiebeker in Junie verlede jaar het sowel buitelandse spelers as joernaliste gekla vuvuzelas laat hul koppe draai.
Jérôme Valcke, Fifa se sekretaris-generaal, het gister gesê Fifa verwag dat dit stiller moet wees in die stadions as by onlangse wedstryde.
Volgens Jordaan is ’n voortdurende gedreun onaanvaarbaar, veral as “presidente of konings” praat. Om veiligheidsredes moet toeskouers boonop aankondigings kan hoor.
“Ons kan nie heeltyd geraas hê wanneer ons in die middel van ’n volkslied is nie.
“Ons kan nie volksliedere minag nie. As die president praat, moet almal kan hoor,” het Jordaan gesê.
Gisteraand was daarom ’n kleedrepetisie vir die openingswedstryd.
“Ons sal vanaand (na die geraasvlakke) kyk. Dit is die eerste keer wat Soccer City vol gaan wees en ons sal moet sien of die geraas ’n impak het op die doeltreffendheid van die bedrywighede,” het Jordaan gesê.
Owerhede se geduld het gister ook opgeraak met joernaliste wat WB-spanne lastig val.
Polisie het Simon Mathebula, ’n fotograaf van die Sunday Times, by die O.R. Tambo-lughawe aangekeer, ondervra en beveel om sy foto’s uit te wis toe hy te naby aan die Brasiliane probeer kom het.
Darryl Hammond, die koerant se fotoredakteur, het gesê Mathebula was in ’n gebied waar hy nie veronderstel was om te wees nie. “Dit lyk asof dit ’n misverstand was.”
Die beroemde Brasiliaanse middelveld-speler Kaka het ná sy aankoms op Twitter gesê hy is baie opgewonde om hier te wees. “Nou net in Suid-Afrika aangekom. Ongelooflike atmosfeer!!”
Volg Beeld op Twitter