Swaar reën demp WB-gees
2010-07-11 16:58
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Kaapstad - Reën en koue weer oor die hele land het die Wêreldbeker-gees by jolkolle voor die eindstryd tussen Spanje en Nederland Sondag gedemp.
Durban was winderig en koud voor die eindstryd.
Teen 16:00 was die jolkol by die King Zwelithini-stadion in Umlazi steeds redelik leeg.
Maar amptenare het gesê dis te vroeg om te aanvaar dat die koue weer mense uit die stadion sal hou.
Die Umlazi-jolkol is sedert die begin van die Wêreldbekertoernooi op 11 Junie een van die besigste.
Tydens die openingswedstryd tussen Bafana Bafana en Mexico was die stadion stampvol.
"Ek hoop nie dit reën nie, sodat mense hulself vandag kan geniet," het Gugu Gumede, 'n sekuriteitswag by die stadion, gesê.
Sokkerondersteuners by die Centurion-jolkol het gesê die stadion maak hulle trots om Suid-Afrikaans te wees en hulle het gesê hulle is hartseer dat dit tot 'n einde kom.
Lee Johannessen, 26, en haar verloofde, het Sondagoggend uit die Vrystaat gery om die wedstryd in Centurion te kyk. Sy sê sy het nog nooit so trots Suid-Afrikaans gevoel nie.
"Ons is almal nou een. Ek het hoendervleis," het sy gesê, en bygevoeg dat sy hoop Suid-Afrika sal ook eendag die Olimpiese Spele aanbied.
"Die Suid-Afrikaanse jazz-ster Sipho "Hotstix" Mabuse het die skare vermaak, en ook 'n lied gesing ter ere van Stimela se hoofsanger, Nana Motijoana, wat vroeër in die week oorlede is.
In Port Elizabeth was daar teen Sondagmiddag 15:00 meer sekuriteitsbeamptes as sokkerondersteuners by die St George's Park-jolkol.
Swaar reën oor die hele stad het die oppervlak van dié bekende krieketstadion nat en modderig gelaat.
Amptenare was nie seker hoeveel ondersteuners om te verwag vir die eindstryd-vieringe nie.
Vir inwoners van Port Elizabeth is die laaste 24 uur se reën egter 'n bedekte seën, omdat die streek se damme en reservoirs baie leeg was.
"As die einde van die Wêreldbekertoernooi beteken dis ook die einde van die droogte, is ek baie bly oor die reën," het Debbie Derry, 'n vryywilliger by dié jolkol, aan Sapa gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA