Sokkerspeler van Kameroen verdwyn by Century City
2010-07-06 10:00
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Die Burger
Kaapstad - “Geen misdaad word vermoed nie, maar dit word nie by die ondersoek uitgesluit nie.”
Só het kol. Billy Jones, polisiewoordvoerder, Maandag gesê nadat een van die sportpersoonlikhede wat Saterdag in die vertoonwedstryd om die Spesiale Olimpiese Spele se Eenheidsbeker in die Kaapstad-stadion gespeel het, spoorloos verdwyn het.
Die vermiste Guy Ruben Biton-Mankeuh (21) van Yaoundi, Kameroen, en 16 ander Spesiale Olimpiese atlete het Saterdag saam met pres. Jacob Zuma en ander bekendes in dié wedstryd voor die Wêreldbeker-kwarteindstryd tussen Argentinië en Duitsland gespeel.
Biton-Mankeuh is Sondagaand as vermis aangemeld nadat hy die laaste keer om 16:30 gesien is.
Hy en ander sportlui wat in dié wedstryd gespeel het, het van die Protea Island Club-hotel na die Crystal Towers-hotel by Century City gestap.
Toe die groep teruggekeer het na die Protea Island Club-hotel, waar hulle tuisgaan, het Biton-Mankeuh alleen verder geloop.
Biton-Mankeuh is slank gebou en is sowat 1,75m lank. Hy het donker gelaatstrekke en sy kop is kaal geskeer.
Sy Engelse taalvaardighede is beperk, maar hy is Frans en Spaans magtig.
Hy is laas gesien in ’n kakie-hemp, ’n blou denimbroek en ’n rooi serp. Hy het ook ’n swart Coca-Cola-sportbaadjie gedra wat die deelnemers aan die vertoonwedstryd ontvang het.
Enigiemand met inligting word gevra om die Milnerton-polisie by 0215283800 of die Stop Misdaadlyn by 0860010111 te skakel.
- Volg Nuus24 op Twitter.