Sangomas gryp in om Bafana woema te gee
2010-06-21 09:25
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Johannesburg – Suid-Afrikaners wend hulle nou tot moetie, of tradisionele medisyne, om Bafana Bafana ’n hupstoot te gee in die eerste ronde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Tradisionele helers glo moetie – ’n mengsel van kruie, plante (soos aalwyn) en liggaamsdele van diere (soos aasvoëlbrein) – kan gebruik word om mense se geluk te verander, sietes te genees of vertonings te verbeter.
Dit bevat ook soms menslike liggaamsdele.
Miriam Lethaba, ’n huiswerker van Ratanda buite Johannesburg, het gesê: “Moetie werk. Dit kan Bafana sterk maak.”
Suid-Afrika het Woensdag teen Uruguay verloor en moet Frankryk môre klop om na die uitkloprondes deur te dring.
Indien hulle nie deurdring nie, sal hulle die eerste gasheerspan wees wat al in die eerste rondevan die toernooi uitgeskakel word.
Sangomas doen nou hul bes om dit te voorkom, en glo dat die brand van moetie by sokkerwedstryde die span se geluk kan beïnvloed.
Abel Zwane, ’n handelaar wat tradisionele medisyne in Heidelberg verkoop, het gesê: “Ek glo dat moeti Bafana Bafana se vertoning kan verbeter.”
Moetie het oor eeue heen onder die inheemse mense van Afrika ontwikkel, en die naam kom van die Zoeloe-woord vir “boom”. Sommige tradisionaliste brand of brou moetie om goeie geluk te verseker, en ander om gebeure in die toekoms te voorspel.
Jaco Lushaba, ’n tradisionele Zoeloe-danser van Ratanda, het gesê die moetie kan werk, mits die spelers daarin glo.
“Daar is baie verskillende kulture in die Bafana-span verteenwoordig en ek dink nie hulle glo almal in die krag van moetie nie. Die enigste manier waarop moetie vir Bafana Bafana kan werk, is as elke lid van die span daarin glo.
“Moetie gaan oor geloof. As ’n mens nie glo dit sal werk nie, dan sal dit nie werk nie.”
- Sapa - AP