Polisie in beheer by twee WB-stadions
2010-06-14 19:15
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Durban – Polisie het beheer oorgeneem van sekuriteit by Durban se Moses Mabhida-stadion, sowel as die Groenpunt-stadion in Kaapstad, ná stakende sekuriteitsbeamptes uitgeloop het.
Nóg Fifa nóg Durban se polisie wou kommentaar lewer op die situasie, hoewel bronne dit aan die Duitse nuusagentskap DPA bevestig het.
Polisie het Maandag in die vroeë oggendure rubberkoeëls en traangas gebruik om 'n betoging deur privaat sekuriteitsbeamptes by die Moses Mabhida-stadion onder beheer te bring. Die werkers het aangedring op meer betaling, en geweier om die stadion te verlaat.
Sekuriteitsbeamptes wat wel nog gewerk het, het die stadion Maandagmiddag vreedsaam verlaat.
Intussen het sekuriteitsbeamptes wat die Wêreldbeker-wedstryd tussen Italië en Paraguay Maandagaand in Kaapstad moes monitor, ook uitgeloop, aldus die plaaslike reëlingskomitee.
Rich Mkhondo, 'n woordvoerder, het gesê die komitee het die polisie gevra om sekerheidsdienste by die Groenpunt- en Moses Mabidha-stadion oor te neem tot verdere kennisgewing.
"Die versoek het gekom ná sekuriteitsbeamptes uitgeloop het ná 'n salarisdispuut met hulle werkgewer, Stallion Security Consortium Pty (Ltd)," het Mkhondo in 'n verklaring gesê.
"Die polisie het verantwoordelikheid oorgeneem vir sekuriteit by die Groenpunt-stadion vir die wedstryd tussen Italië en Paraguay wat Maandagaand om 20:30 begin."
"Die wedstryd sal op die geskeduleerde tyd afskop," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA