Onwettige kaartjies lei tot groot verlies
2010-06-28 07:41
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Die Burger
Johannesburg - Die polisie kon nie Sondag uitbrei oor die omvang van die Wêreldbeker-kaartjieverneukspul nie, omdat hul ondersoek glo in ’n sensitiewe stadium is.
Dit het Sondag aan die lig gekom dat plaaslike maatskappye en sokkergeesdriftiges miljoene rande verloor het nadat hulle kaartjies gekoop het wat later elektronies deur Fifa gekanselleer is, omdat die kaartjieverkopers nie geakkrediteerde agente is nie.
Fifa het hom Sondag van die verneukspul gedistansieer deur te sê toeskouers is lank voor die Wêreldbeker gewaarsku om slegs kaartjies by Fifa-geakkrediteerde agente te koop.
Daar word beweer plaaslike maatskappye, insluitend die brandstofreus Sasol, het altesame R6,5 miljoen weens dié slenter verloor.
Talle teleurgestelde toeskouers is glo ook by wedstryde weggewys nadat beamptes buite die stadion die kaartjies as onwettig uitgewys het.
Kol. Vish Naidoo, ’n polisiewoordvoerder, het Sondag bevestig die polisie ondersoek tans die saak nadat hulle ’n dossier met verklarings van sewe maatskappye, wat glo deur ongeakkrediteerde kaartjieverkopers ingeloop is, ontvang het.
“Ek kan my nie uitlaat oor die besonderhede van die saak nie, want dit is ’n baie sensitiewe ondersoek. Ek kan wel sê ons sal alles in ons vermoë doen om diégene wat onwettig kaartjies vir die Wêreldbeker verkoop, aan te keer,” het Naidoo gesê.
Die saak word volgens hom deur ’n toegewyde Wêreldbeker-taakspan van die polisie ondersoek.
Die polisie het reeds vandeesweek ’n Deense man, Michael Bakkestrom, en ’n Duitse vrou, Siv Anne Balsley, by die Michelangelo-hotel in Sandton vir die verkoop van vermoedelik onwettige kaartjies in hegtenis geneem.
Daar is volgens Naidoo sowat 70 kaartjies in hul besit gevind.
Dié twee het na bewering kaartjies verkoop namens ’n Noorweegse maatskappy genaamd Euroteam, oor wie Fifa reeds talle klagtes ontvang het.
Sasol is een van die plaaslike maatskappye wat ’n verklaring aan die polisie oorhandig het nadat hulle R3,3 miljoen se kaartjies en gasvryheidspakkette by ’n ander maatskappy, die Marcus Evans Group, wat skynbaar ook nie deur Fifa geakkrediteer is nie, gekoop het.
Sokker-ondersteuners kan 083 123 2010 skakel om die status van hul kaartjies te bevestig, of om detail op die kaartjies te verander.
- Die Burger