Ons kán WB wen, sê Bafana se Slimkat
2010-06-08 08:48
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Eduan Roos
Johannesburg - Drie maande gelede was die Suid-Afrikaanse sokkerspan bereid “om net die getalle vol te maak” in die Wêreldbekertoernooi, maar ná 13 agtereenvolgende wedstryde sonder ’n nederlaag is dít beslis nie meer die geval nie.
Moeneeb Josephs, ’n Bafana Bafana-doelwagter, het Maandag erken sy span se onlangse vertonings het selfs die spelers verbaas.
Sedert Carlos Alberto Parreira in November verlede jaar as breier oorgeneem het by sy Brasiliaanse landgenoot Joel Santana het die Suid-Afrikaners nog nie een keer bloedneus gekry nie en reeds hul man gestaan teen gerekende sokkerlande soos Bulgarye, Colombia en Paraguay.
Parreira-hulle het Saterdag boonop hul beste vertoning van die jaar gelewer deur die hoog aangeskrewe Denemarke in Atteridgeville met 1-0 te klop.
“Voordat ons begin het met ons oefenkampe was almal maar net te bly om deel te wees van die Wêreldbeker en om maar net te kan deelneem,” het Josephs gesê.
“Met elke wedstryd wat ons die laaste ruk gewen het, het ons egter meer optimisties begin raak en nou glo ons dat ons dit ver kan bring.
“Vroeër was ons net bereid om die getalle vol te maak, maar ons ingesteldheid het nou só verander dat ons glo ons kan die toernooi wen.”
Dié 30-jarige Orlando Pirates-ster is in ’n taai stryd gewikkel met Itumeleng Khune om Vrydag in die doelhok te begin wanneer die tuisspan Mexiko in die openingswedstryd in Soccer City pak.
Kenners is steeds verdeeld oor wie van dié twee die handskoene moet dra nadat Josephs pas as die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se doelwagter van die jaar aangewys is.
Hy het boonop verlede week geskitter in die Suid-Afrikaners se oefenwedstryd teen Guatemala in Polokwane.
Hy moes egter teen die Skandinawiërs weer die plaasvervangersbank warm hou nadat Khune herstel het van ’n laerug-besering.
“Net Carlos kan besluit oor my plek in die beginspan.
Dis buite my beheer,” het hy gesê.
“Ek bekommer my egter nie te veel daaroor nie, want wie ook al gekies word, weet hy het die volle ondersteuning van die ander twee – of dit nou ék, Itumeleng of Shu-aib (Walters, Parreira se derdekeuse-doelwagter) is.”
Volgens Slimkat, soos Josephs aan die begin van sy loopbaan in Mitchells Plain gedoop is, is dié mededinging om plekke in die span ’n pluimpie vir Suid-Afrikaanse sokker.
“Dis gesonde kompetisie en hou almal op hul tone.
Dit verseker dat nie een van ons kan bekostig om oorgerus te raak nie.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24