Nuwe toestel demp vuvuzela se harde gebulk
2010-07-08 08:44
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Theuns van der Westhuizen
Die Burger
Kaapstad - Die dae dat die oorverdowende gedreun van vuvuzelas talle sokkerkykers rasend wou maak, is dalk binnekort iets van die verlede.
’n Switserse vervaardiger van gehoortoestelle, Phonak, het pas ’n prototipe geskep van ’n toestel wat die vuvuzela-klanke tot houdbare vlakke filtreer en die gebruiker selfs in staat stel om te hoor wat die toeskouer langsaan te sê het.
Of almal egter daarvan sal hou om sokker sonder die vuvuzela-klanke te kyk, sal eers gesien moet word.
Ek was gedurende die Wêreldbeker-toernooi se laaste twee wedstryde in die Kaapstad-stadion ’n proefkonyn wat dié toestel getoets het. En ek het gemengde gevoelens.
Ja, as jy die toestel behoorlik instel en die regte oorstuk gebruik (daar is sommige van skuimplastiek en ander van silikoon), is dit lekker om te kan hoor wat die sokkerkyker langs jou te sê het.
As jy egter die klank te sag stel, voel jy asof jy televisie kyk. Die lawaai van die vuvuzelas is dan net ’n sagte gedruis op die agtergrond en ’n groot deel van die gees en opwinding langs die veld gaan verlore.
Vir ’n joernalis wat net oor die spel verslag moet doen, kan dit weer kwalik beter. Die steurende klanke is weg en jy kan op die spel konsentreer.
Volgens die vervaardiger is die betrokke toestel een wat normaalweg deur helikoptervlieëniers, brandweerbeamptes en fabriekswerkers gebruik word. Dit is aangepas om die vuvuzela se gedreun en moontlike gehoorverlies te beperk.
’n Voortdurende lawaai van 85dB kan permanente gehoorverlies veroorsaak, terwyl onlangse ondersoeke getoon het dat vuvuzela-blasers by groot byeenkomste gereeld meer as 130dB haal.
Navorsers van die Universiteit van Pretoria het voor die Wêreldbeker-toernooi by ’n PSL-wedstryd met 30000 toeskouers spitse van tot 137dB gemeet en ’n gemiddelde van 100dB vir die duur van die wedstryd.
’n Vuvuzela se lawaai is dus aansienlik harder as die 90dB van ’n grassnyer of 100dB van ’n kettingsaag.
Volgens Phonak onderdruk die toestel skerp klankprikkels digitaal sodra hy dit optel. Klanke wat binne veilige perke is, word nie geraak nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger