Nagmerrie op Loftus!
2010-06-17 07:51
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Pretoria - O liewe hel. Skande!
Kies uit bogenoemde u eie reaksie nadat Suid-Afrika se sokkerspan Woensdagaand sy wittebrood ná ’n skamele ses dae bederf het met ’n liederlike nederlaag teen Uruguay, wat met 3-0 baas was.
Was dit ’n werklike wittebrood, sou jy dié bruidegom daarvan kon beskuldig dat hy die strooimeisies bevoel, sy swaer gefoeter en op sy skoonma se kouse naar geword het – dáái liga skande.
Dit was eina om te hoor hoe ’n see vuvuzelas hul oemf verloor soos Suid-Afrika se sokker gisteraand hier op Loftus Versfeld aan die kaak gestel is in een van die pynlikste pakke slae wat ons nog in internasionale sokker op die lyf geloop het.
Hiervandaan hou ons duim vas vir ’n totale ineenstorting van Franse sokker-spangees, of die Wêreldbeker-toernooi is soos ’n partytjie wat in ons garage gehou word, maar ons het g’n meer sê in die musiek nie.
Bafana Bafana het hul strafste toets tot dusver jammerlik gefaal en as ’n mens enigiets positiefs hieruit kan put, is dit seker maar dat ons sokkerbase nie meer op lang termyn hulself siende blind en horende doof kan hou vir die prul waarin hulle een van ons groot sporte laat verval het sedert ons hertoetrede tot die internasionale toneel nie.
Dit was pateties.
Dit het in geen stadium gelyk of Suid-Afrika die pyp sou rook nie, maar die rooikaart wat die doelwagter, Itumeleng Khune, in die 76ste minuut op die lyf geloop het ná ’n bra lomperige duikslag op Uruguay se jong Luis Suarez, was die amptelike doodskoot.
Diego Forlan het van die kolletjie gebêre nadat hy in die 24ste minuut skandaliglik in die kol was van meer as 30 treë.
Nie net het Khune, anderdag nog ’n SA held teen Mexiko, hom liederlik met ’n taamlik tentatiewe standaard-skoot misreken nie, maar die SA kaptein, Aaron Mokoena, het stellig sy vrotste oomblik ooit op die veld belewe toe hy op die rand van die doelgebied mooitjies uit die pad van Forlan se skoot gekóés het.
Ja, gekoes het.
’n Sentrale verdediger wat sy sout werd is, staan in sulke omstandighede vas en bid dat hy nie harsingskudding of onvrugbaarheid op die lyf loop nie.
’n Derde doel in die doodsnikke, deur Alvaro Pereira, was blote sout in die wonde.
Van al die belofte wat Bafana Bafana getoon het die laaste maand of twee, was daar min sprake.
Plaaslike kritici het gemor omdat Carlos Alberto Parreira (afrigter) daarop aandring dat Suid-Afrika sy spel skoei op die lees van balbesit.
Teenaanvalle, het hulle beduie, is ’n beter resep.
Wat hulle, helaas, uit die oog verloor het in die proses is dat die klein Suid-Afrikaners nie veel kans staan om die bal te herwin as hulle hom een maal veld-af gesool het nie.
Die bal is inderdaad rondgespeel, maar bloot kruis en dwars voor die doelgebied.
Die oomblik dat dit vorentoe gestuur is, is dit verloor.
Die groter Uruguaanse verdedigers het die een bal ná die ander opgeraap en doodluiters weer aan bewegings begin bou, terwyl Suid-Afrika se giftigste angels vergeefs probeer het om iets uit niets te tower.
Parreira se aandrang op “local is lekker” verdien dalk tog ’n paar toffies.
Teko Modise het nogmaals in die kollig verwelk toe hy teen meerdere teenstand te staan gekom het as wat hy in die Premierliga teëkom.
Die bal is feitlik klokslag by die Pirates-doelskieter afgeneem in belowende posisies, wat ’n mens die idee gegee het hy is bloot die nuutste in die lang ry van Doctor Khumalo, Steve Lekoelea en kie – uitstaande teen die Golden Arrows van die wêreld, nie soseer teen honger, harde Latyns-Amerikaners nie.
Kagisho Dikgacoi (tweede geelkaart) en Khune mag weens hul oortredings nie Dinsdag teen Frankyk speel nie.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24