Mexiko kan eie graf grawe – Mphela
2010-06-09 08:06
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Eduan Roos
Johannesburg - Mexiko se krag kan maklik sy kruis word wanneer dié sokkerspan Vrydag in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Suid-Afrika te staan kom, meen Katlego Mphela.
Volgens dié Bafana Bafana-doelskieter beplan die tuisspan om vuur met vuur te beveg, voor ’n verwagte 90 000 toeskouers in die splinternuwe Soccer City.
“Mexiko is ’n gevaarlike span met heelwat vaart, veral voorlangs,” het Mphela gesê.
“Ek was nie juis beïndruk met hul vertoning in hul laaste paar wedstryde nie, maar dit sal steeds ’n moeilike wedstryd wees aangesien albei spanne die toernooi met ’n sege wil begin.”
Javier Aguirre (afrigter) se troepe het onlangs teen Engeland en Nederland verloor, maar verlede Donderdag daarvoor vergoed deur die wêreldkampioen, Italië, met 2-1 in ’n oefenkragmeting in Brussel te klop.
“Hulle hou daarvan om van oor die hele veld aan te val en dit kan in ons guns tel, aangesien hulle dan agterlangs weerloos kan wees,” het Mphela gesê.
“Van hul verdedigers lyk boonop oud en stadig en ek is seker dat ek ’n keer of wat verby hulle sal kan glip.
“Dit behoort ’n opwindende wedstryd te wees, met heelwat doelkanse.”
Mphela was Saterdag Bafana se groot held in hul laaste littelosmaker – teen Denemarke – toe hy die wendoel in die 76ste minuut aangeteken (en aan die Suid-Afrikaners hul 13de agtereenvolgende wedstryd sonder ’n nederlaag besorg) het.
“Teen Denemarke was dinge vir die grootste deel van die wedstryd baie gelykop.
“Ons fiksheid was egter deurslaggewend, aangesien ons die pas vir 97 minute kon volhou, terwyl hulle moeg geraak het,” het Mphela gesê.
Hy sal Vrydag straks weer die enigste doelskieter in Carlos Alberto Parreira se beginspan wees met dié afrigter wat steeds met ’n 4-2-3-1-spelpatroon volstaan.
“Dit pla my nie om alleen voor te speel nie, want ek doen ál beter in dié rol en is gemaklik met die verantwoordelikheid,” het Mphela gesê.
“Dis eenvoudig: as ek genoeg goeie bal by my spanmaats kry, sál ek doele aanteken.”
Volgens die Bafana-doelwagter Itumeleng Khune sal sy span alle versigtigheid oorboord gooi.
“Mexiko weet hoe om doele aan te teken, maar ons ook.
Ons moet hulle van die eerste oomblik af aanval en nie net terugsit en probeer verdedig nie.
“’n Gelykop-uitslag sal nie goed genoeg wees nie.
“Ons wil wen en die toernooi op die beste moontlike manier begin.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24