Kaapstad se stadion nou slaggereed
2010-04-12 07:21
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Theuns van der Westhuizen, Die Burger
Kaapstad - Kaapstad is nie net gereed vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi nie; hy gaan ook een van die gewildste bestemmings vir staatshoofde en ander hoëprofiel-sokkerkykers wees.
Alles is reg. Die vlak van steun is hoog, die logistiek is goed en die infrastruktuur en geriewe is behoorlik getoets, volgens Danny Jordaan, hoof van Fifa se plaaslike reëlingskomitee.
Boonop spog die stad met een van die mooiste en beste stadions in die wêreld.
“Baie geluk Kaapstad. As ons 8 of 8,5 uit 10 verwag het, dan kry julle 9 uit 10.”
Jordaan en verskeie hooggeplaastes van SAFA, sowel as die afrigter van Bafana Bafana, mnr. Carlos Parreira, het Saterdagaand hier hul tevredenheid met die stadion en reëlings vir die Cape Town Challenge-sokkertoernooi uitgespreek.
Volgens Parreira was hy al in stadions reg oor die wêreld en as hy ’n lys van die vyf bestes moet opstel, sal die Kaapstad-stadion beslis een wees. “Die stadion en die atmosfeer is manjifiek.”
Saterdagaand se wedstryde tussen die o.20-spanne van Suid-Afrika en Nigerië, en tussen Brasilië en Ghana, is deur ’n skare van sowat 42000 mense bygewoon.
Jordaan het ook bekend gemaak dat daar nog sowat 500000 van die meer as 3 miljoen kaartjies vir die 64 wedstryde van die Wêreldbeker-toernooi te koop is.
Altesame 124000 van dié kaartjies is kategorie 4-kaartjies wat net aan inwoners van Suid-Afrika te koop aangebied word.
Die 500000 onverkoopte kaartjies sal van Donderdag af landwyd “oor die toonbank” verkoop word.
Intussen het dr. Ivan Bromfield, hoof van munisipale gesondheidsdienste, gesê wetenskaplike toetse het getoon dat die geraasvlakke rondom die Kaapstad-stadion redelik is, ondanks klagtes van inwoners.
By onlangse byeenkomste is ’n hoogtepunt van 60 desibel buite die stadion gemeet. In die verlede was dit meer as 80 desibel by soortgelyke byeenkomste.
Musiek veroorsaak gewoonlik die hoogste geraasvlakke en dit sal moeilik wees om die huidige geraasvlakke met dié van die ou stadion te vergelyk voor daar ’n musiekkonsert in die nuwe stadion was nie, het hy gesê.
- Die Burger