Kaapstad 2de gewildste onder WB-besoekers
2010-05-20 14:36
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Theuns van der Westhuizen
Kaapstad - Die noordelike stadsgebiede en die Helderberg-kom is die gewildste bestemmings onder buitelanders wat in Kaapstad blyplek vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi soek.
Daarna kom die Atlantiese kusstrook – van Kampsbaai tot Bloubergstrand.
Die stadskom en die suidelike voorstede staan agter in die tou, blyk uit navorsing wat Cape Town Routes Unlimited (CTRU) van 1 Januarie tot 31 Maart oor verblyfbesprekings vir die toernooi laat doen het.
Volgens Calvyn Gilfellan, hoof van CTRU, toon ’n ontleding van syfers wat van hotels, gastehuise en selfsorgbyplekke verkry is, ook dat die meeste besprekings vir Junie (wanneer die Wêreldbeker-toernooi in volle swang is) in hotels gedoen is.
Daarna volg besprekings in gastehuise, selfsorgblyplekke en bed-en-ontbyt-plekke.
Alan Winde, Wes-Kaapse minister van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het bygevoeg dat daar ’n merkbare toename in besprekings was as syfers met dié van die ooreenstemmende tydperk verlede jaar vergelyk word.
Afwaartse aanpassings van tariewe het waarskynlik bygedra tot die toename in besprekings. “Dit toon ’n vloeibaarheid in die mark, maar dit wys ook dat ons deurgaans die impak van prysstygings in gedagte moet hou. Dis ’n kwessie van vraag en aanbod.”
Dr. Laurine Platzky, Wes-Kaapse 2010-koördineerder, het gesê die meeste navrae uit die buiteland gaan in hierdie stadium oor mediageriewe en die pryse van verblyfplekke.
Winde het ook by navraag bevestig dat heelwat minder buitelandse besoekers verwag word as wat aanvanklik geraam is.
“Die wêreldwye afswaai in die ekonomie het waarskynlik die grootste impak gehad, maar dit moet onthou word dat ons ’n langafstand-bestemming is.
“Nog ’n faktor is gewetenlose verhoging van pryse en tariewe, en die wisselkoers van die rand het ook sommige mense afgeskrik.”
Navorsing toon dat die meeste buitelandse besoekers vir die Wêreldbeker-toernooi in Gauteng gaan bly, want die meeste spanne bly daar en die meeste wedstryde word daar gespeel.
Kaapstad is die tweede gewildste bestemming onder die Wêreldbeker-besoekers.
- Sake24