‘Jy vra hoe ek voel? Jou f***** idioot!’
2010-06-28 12:12
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Beeld
Moenie ’n suurknol Engelsman vra hoe hy voel oomblikke nadat sy span met 1-4 deur Duitsland verneder is nie.
Dié les het die uwe geleer toe die Brit eers my sonbril en akkreditasie wou vernietig en my toe van agter ’n klap teen die oor gegee het.
Dit het natuurlik alles in ’n stortvloed van die Engelse sokkerboef se moedertaal plaasgevind: rou Engels deurspek met die f-woord.
Ek moes geweet het hierdie ou wat sy longe uitgeskreeu het op die f-se Duitsers en die f-se ref gaan my nie ’n koppie tee aanbied nie.
Ek kon dit natuurlik nie help nie. Nadat die Duitsers die vierde doel aangeteken het, het hy homself met sy vuvuzela teen die kop geslaan.
Hy wou vroeër ook die skeidsregter gaan bydam oor sy span se tweede doel wat nie toegeken is nie.
Die pragtige Duitse meisie voor hom wat haar heupe geswaai en die Duitse vlag lustig rondgeswaai het, moes ook met sy bloeddruk gewerk het.
Regs van hom het ’n Duitser ’n opblaas-Messerschmitt-vegvliegtuig rondgeswaai waarmee hulle Londen gepeper en amper die Tweede Wêreldoorlog gewen het.
En voor hom op die grasgroen Vrystaat-stadion, ’n klipgooi van waar lord Roberts Bloemfontein in die Anglo-Boereoorlog tot Britse stad verklaar het, kry die Kakies ’n erge drag slae.
En wragtag kom vra ’n joernalis in Boere-Engels vir hom hoe hy voel.
Ek moes dalk meer moeite gedoen het om die glimlag op my gesig te verdoesel.
Ek het met die duim na bo en die duim na onder gewys. Die Duitsers het nogal lawaai.
“Jy vra my hoe ek voel? Jou f****n idioot!” het hy geskreeu. Hy het my sonbril gegryp en dit teruggeplak op my kop.
Toe gryp hy my Fifa-akkreditasie en vertel in f-se detail hoe hy dit gaan vernietig.
Ek het omgedraai om weg te stap. Dis toe hy my teen die regteroor klap. Twang! Sjoe, dit maak ’n mens nogal kwaad.
Maar daar’s natuurlik die Fifa-hof wat jy in gedagte moet hou.
’n Brit het na my gestap. “Los hom, hy’s net ’n slegte verloorder.” Ek het ook so besluit. Die Duitse sokkerspan het reeds my dag gemaak.
Lank nadat die sing uit my oor is, gaan hy nog sleg voel oor die vrotsige span se vrotsige spel in die hoofstad van die Vrystaat wat die Britte 110 jaar gelede onregmatig ingeneem het.
- Beeld