G’n babelas by Bafana, sê Tshabalala
2010-06-14 09:00
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Johannesburg. - Daar sal geen sprake wees van ’n Bafana Bafana-babelas nie wanneer dié span oormôre op Loftus Versfeld in sy tweede Wêreldbeker-kragmeting teen Uruguay te staan kom.
Die Suid-Afrikaners het Vrydag die sokkerwêreld geskud deur so byna met die hoogaangeskrewe Mexiko af te reken in die openingswedstryd van WB 2010.
Siphiwe Tshabalala en Bongani Khumalo, twee van die groot helde in die gelykopstryd op Soccer City, het gister die versekering gegee dat oorgerustheid nie ’n probleem sal wees nie.
Tshabalala se skouspelagtige doel in die 56ste minuut het Bafana se hoop op net ’n tweede Wêreldbeker-sege in sewe probeerslae laat opflikker voordat Rafael Marquez sowat 14 minute later die gelykmaker aangeteken het ná ’n liederlike blaps deur Khumalo en sy mede-verdedigers.
“Dit was teleurstellend om ’n doel op dié manier af te staan, want dis nie hoe jy wil verloor nie,” het Khumalo gesê.
“Ons het dit nou agter ons geplaas en reeds hard begin werk om te verseker dat dit nie weer gebeur nie.”
Volgens hom is die stryd teen die Suid-Amerikaners, wat in hul eerste wedstryd met 0-0 gelykop teen Frankryk gespeel het, een wat sy span móét wen om sy aanspraak op ’n plek in die tweede ronde lewendig te hou.
“Dit gaan ’n yslike wedstryd wees, want hulle is ’n gedugte en ervare span. Hulle het goed gelyk teen die Franse en hul verdediging ’n keer of wat behoorlik getoets.
“Teen Mexiko het die senuwees aanvanklik erg gepla en ons het gesukkel om aan die gang te kom. Ons kan dít egter nie bekostig teen Uruguay nie, want Diego Forlan is ’n doelskieter van wêreldgehalte en sal nie sommer enige kanse verspeel nie.”
Terselfdertyd het Tshabalala sy doel, die eerste van WB 2010 in sy 50ste wedstryd in die Groen-en-Goud, as die hoogtepunt van sy loopbaan beskryf.
“Ek moet myself steeds knyp om te weet dat dit werklik gebeur het.
“Toe ek daai bal in die net sien vlieg, het ek amper begin huil van verligting,” het hy gesê.
“Dit was ongetwyfeld die beste doel en die beste oomblik van my loopbaan.”
Hy “dink nog nie eens” aan al die Europese klubspanne wat nou sy handtekening gaan jag nie.
“Ek het nog geen amptelike aanbiedinge ontvang nie, maar dit pla my nie,” het hy gesê.
“Vir nou is al my aandag by Bafana en om te verseker dat ons teen Uruguay wen.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.