Franse skree eerder vir Bafana
2010-06-23 07:42
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Parys, Frankryk – Franse sokkerondersteuners het met Dinsdag se wedstryd tussen hul span en Bafana Bafana in Bloemfontein in Suid-Afrika vir die 2010-gasheerspan geskree en hul eie span uitgejou.
Die Franse span (Les Bleus) se binnegevegte met Dinsdagaand se deurslaggewende wedstryd het aanhangers skaam en verstom gehad.
’n Paar duisend mense het oorkant die Eiffel-toring in Parys opgedaag om die wedstryd op ’n groot skerm te kyk.
Sommige het Franse vlae rondgeswaai of om hulle gedrapeer. Toe Suid-Afrika begin doele aanteken, het Franse ondersteuners moed verloor en teen hul span gedraai.
Die Franse het 2-1 teen Bafana Bafana verloor en uitgeval uit die toernooi, terwyl Uruguay en Mexiko uit Groep A na die volgende ronde deurgedring het.
Franse ondersteuners het hard gejuig toe Florent Malouda die eerste doel vir die span aanteken, maar hulle het ook hard gejuig toe Yoann Gourcuff ’n rooi kaart gekry het.
Elke keer wanneer Bafana Bafana ’n doel aangeteken het, het ’n luide applous gemeng met ’n geboe uit die skare opgeklink.
“’n Klomp mense skree nou vir Suid-Afrika,” het Angelique Jurquit (23), ’n radiojoernalis, gesê.
“Die Franse is afgehaal oor hul span se vertoning en die feit dat hulle die ander span aanpor, is om met hul eie span te spot,” het sy gesê.
“Dis snaaks, die Franse is nikswerd,” het Victor Malamoud, ’n 17-jarige Parysenaar, gesê.
“Ek het gekom om die wedstryd te kyk, Les Blues te sien en te hoop,” het hy gesê.
Dié span se probleme het Saterdag begin toe Nicolas Anelka, een van sy spelers, die afrigter beledig het en hy uit die span geskors is.
Anelka se spanmaats het teen sy skorsing gerebelleer deur Sondag te weier om te oefen.
Roselyne Bachelot-Narquin, Franse minister van sport, moes in opdrag van die land se president, Nicolas Sarkozy, tot ná die wedstryd in Suid-Afrika bly.
Sy het Maandagaand gesê sy het die span aangespreek en vir hulle gesê hulle het die land in die skande gesteek.
Franse koerante het in die aanloop tot die wedstryd ’n beroep op Les Blues gedoen om hul sokkies op te trek.
“’n Bietjie waardigheid,” was ’n hoofopskrif van die dagblad Le Parisien.
“Respekteer jul ondersteuners,” het ’n opskrif in France Soir, nog ’n dagblad, gelui.
Die huidige drama in die Franse kamp het die omstrede kopstampery van sy oudkaptein Zinedine Zidane in die Wêreldbeker-finaal vier jaar gelede, in die skadu gestel.
Die voorval het destyds sy beeld as rolmodel erge skade berokken.
Christelle Couleuvre, ’n verkoopsdame in die grootste tak van die sportkettingwinkel Decathlon in Parys, het gesê verkope van Franse ondersteunershemde het afgeneem toe die drama begin het.
Volgens haar het die winkel middel Junie 113 hemde verkoop, maar sedert Saterdag net 19.
Raymond Domenech, die Franse afrigter, loop kwaai deur onder ondersteuners wat verraai voel.
’n Facebook-groep met die naam “Afskeidpartytjie vir Domenech” het al duisende lede wat aandui dat hulle die “partytjie” wat “dwarsoor Frankryk” gehou gaan word, sal bywoon.
- Volksblad