Fifa glo ontevrede oor stadion in Bfn
2010-06-04 07:14
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Volksblad
Bloemfontein – Dit wil voorkom of daar onmin bestaan tussen Fifa en die nasionale plaaslike reëlingskommitee aan die een kant en die Mangaung-munisipaliteit se WB-reëlingskomitee aan die ander kant.
Volksblad het betroubaar verneem dat Fifa ontevrede is omdat die Mangaung-munisipaliteit sloer met die gereedmaak vir die toernooi en nie by sperdatums hou nie.
’n Ingeligte sê een van die grootste probleme is dat die veld nog glad nie gereed is nie.
“Die veld het nog baie gate in en het nog glad nie herstel van die laaste rugbywedstryd wat daar gespeel is nie.”
Nog ’n groot probleem is glo dat die honderde stukkende stoele in die stadion nog nie vervang is nie. Fifa is glo bekommerd dat dit nie gereed sal wees wanneer die toernooi oor sewe dae begin nie.
Verder is Fifa glo ontevrede omdat die oprig van versperrings in en om die stadion sloer. Met Volksblad se besoek gister aan die stadion was daar nog net enkele versperrings om die stadion opgerig. Groot hope versperrings het gister nog onopgeslaan regoor die perseel gelê.
Kommer bestaan ook oor ander infrastruktuur-probleme. Volksblad het gister berig oor die maatreëls wat Centlec, kragverskaffer van Mangaung, moes tref nadat Centlec-werknemers met sabotasie en anargie gedreig het tydens die toernooi. Die stadion se watertoevoer was eergister die hele dag afgesny en Fifa-personeel kon nie eens die toilette gebruik nie.
Die watertoevoer is teen gisteroggend weer herstel.
George Mohlakoana, uitvoerende hoof van die Mangaung-reëlingskomitee, het in reaksie op navrae gesê Fifa het nog nie met hom hieroor gepraat nie. Hy het gesê hy sal vandag kommentaar lewer.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad