Fifa en SA media haaks
2009-11-25 12:04
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Johannesburg - Die sokkerbeheerliggaam Fifa en Suid-Afrikaanse media is haaks oor die beperkte reëls en voorwaardes wat aan joernaliste en hul publikasies vir die Wêreldbeker-toernooi gestel is, berig die Business Day.
'n Klousule in die akkreditasie-ooreenkoms verbind publikasies tot dieselfde reëls as die verslaggewers wat wedstryde of ander amptelike Fifa-geleenthede dek.
Volgens nóg 'n klousule sal joernaliste en publikasies se akkreditasie teruggetrek word as gedrag wat nadelig vir Fifa en die plaaslike reëlingskomitee se beeld kan wees, openbaar word.
Daar heers ook kommer oor 'n klousule wat Fifa instaat stel om 'n joernalis of sy publikasie se akkreditasie sonder enige bespreking terug te trek.
Die eerste klousule verbied normale dekking van enige nuusgebeurtenis, soos 'n staking by 'n spanhotel.
Kommer heers ook dat die tweede klousule kritieke beriggewing oor die Wêreldbeker en sy organisasie verhoed.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) is besig om met Fifa te onderhandel oor die kwelpunte in die akkreditasie-ooreenkoms.
Raymond Louw, 'n Sanef-verteenwoordiger, het gesê dit is moontlik dat 'n ooreenkoms tussen dié partye gesluit kan word.
Dit sluit in dat woorde in die klousule gevoeg kan word wat sê normale redaksiepraktyk sal geskied in gevalle wat Fifa dalk in 'n swak lig kan plaas. Dit lyk ook of die media ooreenkomste moet onderteken voor hulle die gedragskode gesien het.
Deel van die probleem is dat media-instansies moet inteken op die mediakanaal op Fifa se webwerf.
Sodra dít gedoen is, word hulle verbind aan Fifa se reëls voor hulle die reëls en voorwaardes gesien het.
Die plaaslike reëlingskomitee was nie onmiddelik vir kommentaar beskikbaar nie.
– Sapa