FIFA blameer SA vir wedstryd-stormloop
2010-06-08 10:17
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Johannesburg – FIFA het die skuld vir die stormloop by ‘n opwarmingswedstryd tussen Nigerië en Noord-Korea, waar 16 mense beseer is, voor Suid-Afrika se deur gegooi.
Sepp Blatter, FIFA se president, het Maandag joernaliste in Sandton verseker dat soortgelyke voorvalle nie tydens die Wêreldbeker sal plaasvind nie. Blatter het bygevoeg dat veiligheid en sekuriteit by sokkerstadions die verantwoordelikheid van die gasheerland is.
“Ons het as organiseerders ook stappe geneem om ‘n veilige omgewing te verseker, maar die sokkerorganisasies en FIFA het nie ‘n polisiemag tot hul beskikking nie,” het Blatter gesê.
Sestien mense het Sondag by die opwarmingswedstryd tussen Nigerië en Noord-Korea in die Makhulong-stadion in Johannesburg seergekry, toe sokkergeesdriftiges die hekke begin storm het.
FIFA se sekretaris-generaal, Jérôme Valcke, het gesê die polisie het hom onmiddelik van die voorval in kennis gestel.
Die polisie het Maandag in ‘n verklaring gesê dat die opwarmingswedstryd deur ‘n privaatmaatskappy gereël was en dat die spanne blykbaar kaartjies buite die hekke uitgedeel het.
“’n Groep ondersteuners wou die stadion sonder kaartjies binnekom, sake het buite beheer geraak en mense het die hekke begin storm,” het die polisie se verklaring gelui.
Polisiewoordvoerder, Brigadier Sally de Beer, het gesê dat daar ‘n gesamentlike verantwoordelikheid vir die voorval moet wees.
Intussen het Valcke gesê dat tussen 96% en 98% van die drie miljoen kaartjies vir die Wêreldbeker, reeds verkoop is.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24