Duisende Portugese sak vandag op Kaapstad toe
2010-06-29 07:54
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Die Burger
Kaapstad - Die Kaapstad-stadion sal Dinsdagaand veral vol Portugese ondersteuners wees wanneer Portugal en Spanje mekaar die stryd aansê om ’n plek in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
“Die Portugese het sterker bande met Suider-Afrika (as Spanje) en hulle het ’n groot teenwoordigheid in Suid-Afrika,” het Calvyn Gilfellan, uitvoerende hoof van Cape Town Routes Unlimited, gesê.
Soos verlede Maandag, toe Portugal in gietende reën in die Kaapstad-stadion ’n oorwinning van 7–0 oor Noord-Korea behaal het, kan dit Dinsdag weer reën. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ’n 60%-kans op reën. Die wedstryd begin om 20:30.
Benewens die Portugese besoekers wat reeds in die land is, kom daar na verwagting nog Portugese voor Dinsdagaand se wedstryd hier aan. Portugese besoekers uit Mosambiek en Angola word verwag. Gilfellan kon nie sê presies hoeveel nie.
Omdat die wenner se volgende wedstryd eers Saterdag in Johannesburg plaasvind, het ondersteuners tyd om hier te vertoef en sal hulle die provinsie hopelik verken.
Die Portugese, wat “familie- en tradisie-vas” is, stel belang in die plaaslike Portugese gemeenskap en besienswaardighede met ’n Portugese verbintenis.
“As daar ’n (Dias-)kruis of ’n punt is waar hulle om gevaar het...hulle gaan soek hul wortels.”
Die Spanjaarde is ’n “nuwe mark” vir Kaapstad. Hulle sal na verwagting in die buitelug en avontuur belangstel.
Sowat 3000 tot 5000 Spanjaarde sal na verwagting voor Dinsdag se wedstryd uit Spanje in Kaapstad aankom, het Avelino Busto van die Spaanse konsulaat in Kaapstad gesê. Dit is bo en behalwe die Spanjaarde wat reeds van die begin van die toernooi hier is, maar Busto kon nie sê hoeveel reeds hier is nie. “As die span wen, sal hulle waarskynlik hier bly.”
Die volgende wedstryd in die Kaapstad-stadion is die kwarteindstryd Saterdag tussen Argentinië en Duitsland.
- Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Die Burger