Nederland-Brasilië: Droomstryd met ’n angel
2010-07-02 09:00
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Sport24
Port Elizabeth - Op papier belowe Vrydag se sokkerkragmeting hier in die Nelson Mandelabaai-stadion tussen Brasilië en Nederland om ’n droomwedstryd te wees – maar is dit inderdaad wat op die veld in dié kwarteindstryd van WB 2010 gaan plaasvind?
Albei spanne het die vermoë én die spelers om die veld spreekwoordelik aan die brand te speel.
Maar albei kan ook hiperversigtig wees en meer op verdediging as op aanval konsentreer.
Dit wil ook voorkom of Brasilië nog nie sy volle potensiaal in die Wêreldbeker-toernooi bereik het nie.
Maar dié span is, soos Nederland se afrigter, Bert van Marwijk, sê “’n baie volwasse en stabiele span. Hulle straal ’n positiewe arrogansie uit”.
Dunga, Brasilië se breier, het ’n paar probleme weens beserings en spelers wat weens skorsings nie kan speel nie.
Die middelveldspelers Elano, Felipe Melo en Julio Baptista sukkel met beserings en Ramirez loop dié wedstryd mis nadat hy in die vorige stryd – teen Chili – ’n tweede geelkaart gekry het.
Melo en Baptista kan dalk die jawoord kry, maar Elano sal beslis weens ’n enkelbesering moet uitsit.
Dunga het vertroue in sy hele groep en met spelers soos Bastos en Maicon agter en Kaká, Robinho en Luis Fabiano voor, kan ’n mens die Brasiliane se “arrogansie” nogal verstaan.
Van Marwijk wil nie hê dat Nederland as die gunsteling beskou word nie.
Sy span was nou al in 23 wedstryde aan die wenkant en speel met ’n kalmte wat nie misgekyk kan word nie.
Selfs die jonger spelers, soos die vleuel Eljero Elia, speel met geweldig baie selfvertroue.
Elia is ook die een onvoorspelbare speler in die Nederlandse span wat dinge kan laat gebeur.
“Ons kan baie beter speel as wat ons tot dusver gespeel het,” het Elia sy span se teenstanders Donderdag gewaarsku.
“Ons het wel sover die (gewenste) resultate behaal, maar ons moet nog wys wat ons regtig kan doen.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.