Daardie oomblik motiveer my net meer – Mphela
2010-06-16 11:24
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Eduan Roos
Johannesburg - Katlego Mphela se verbroude doelkans teen Mexiko spook steeds by hom.
Dié doelskieter van Mamelodi Sundowns en Bafana Bafana het vandeesweek erken dat hy steeds slapelose nagte het oor sy poging wat die hoekpaal getref het in die doodsnikke van die Wêreldbeker-toernooi se openingswedstryd Vrydag in Soccer City.
Suid-Afrika en Mexiko het gelykop (met 1-elk) gespeel om voorlopig gesamentlik bo-aan die puntelys in Groep A te wees.
“Dit was ’n aaklige gevoel toe ek sien die bal tref die paal en spat verkeerde kant toe,” het Mphela gesê.
“Ek dink egter ek was effens ongelukkig omdat hul doelwagter (Oscar Perez) op die laaste oomblik by die bal probeer uitkom het en ek dit net met die onderkant van my stewel kon skop en almal weet dat dié nuwe bal ’n wil van sy eie het.”
Mphela is die nuutste speler om te kla oor Jabulani, wat spesiaal vir vanjaar se toernooi ontwerp is, nadat die doelwagters Gianluigi Buffon, Iker Casillas en Julio Cesar reeds hul bedenkinge daaroor uitgespreek het.
“Daardie oomblik het sedertdien seker al ’n honderd maal in my gedagtes afgespeel, maar dit het my net meer gemotiveer om die volgende kans te benut.”
Volgens Mphela, die enigste doelskieter in sy afrigter, Carlos Alberto Parreira, se beginspan, gebeur dít hopelik reeds vandag in Bafana Bafana se reg-of-weg-wedstryd teen Uruguay in Pretoria.
“Ek is tevrede met my spelpeil die laaste ruk en my selfvertroue is hoog.
Die hele span is boonop nou veel meer ontspanne ná die eerste wedstryd en ek dink daar behoort heelwat meer kanse te wees.”
Siboniso Gaxa, ’n Bafana-verdediger, het boonop onthul dat die span sy benadering effens sal verander wanneer hy die Suid-Amerikaners die stryd aansê.
“Ons gaan probeer om Uruguay onkant te betrap deur meer langs die kant van die veld af aan te val, eerder as om die bal na die middelveld terug te neem,” het hy gesê.
“Dít beteken dat ons wye verdedigers (Gaxa, Lucas Thwala en Tsepo Masilela) meer gereeld vorentoe sal moet speel en dan hul die verdediging met dwarsaangeë sal probeer uitoorlê.”
Ook Lance Davids, wat steeds wag om sy eerste verskyning in dié toernooi te maak, meen Bafana sal beter voorbereid wees op Loftus Versfeld.
“Die ys is gebreek, nadat ons maar lekker senuagtig was teen Mexiko. Ek dink nie dit sal weer so lank neem vir ons om aan die gang te kom nie.”
Dié middelveldspeler, wat ná Kagisho Dikgacoi, Thanduyise Khuboni én MacBeth Sibaya in die Bafana-ry staan, het gesê hy “gee nie om” om sy speelkans af te wag nie.
“Die span bestaan uit meer as net 11 spelers. Ons is 23 wat almal ’n belangrike bydrae lewer en mekaar onvoorwaardelik ondersteun.”