Bier gaan vloei tydens toernooi
2010-03-12 06:39
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Theuns van der Westhuizen, Die Burger
Kaapstad-Suid-Afrikaanse bierdrinkers sal nou wel nie hul gunsteling- Suid-Afrikaanse bier by ’n Wêreldbeker-sokkerwedstryd kan geniet nie, maar buite die stadions en by die amptelike kyk- en jolkolle sal daar genoeg vir almal wees.
Budweiser is Fifa se voorkeur-bier vir die toernooi en sal by die stadions verkoop word, maar Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) het beloof dat daar elders geen tekort aan enige van die plaaslike gunstelinge sal wees nie.
Volgens Alastair Hewitt, 2010-bemarkingsbestuurder van SAB, word verwag dat die meeste sokkeraanhangers die Wêreldbeker-wedstryde tuis op televisie sal volg, of in sportkroeë of taphuise of by die plaaslike kyk- en jolkolle.
Die sokkerkykery in die winter gaan na verwagting daartoe bydra dat die bierverbruik in dié tyd met tussen 4% en 6% toeneem.
Dit beteken dat ’n bykomende sowat 100 000 hektoliter – 30 miljoen blikkies of botteltjies bier van 340 ml elk – verkoop kan word.
SAB het verlede jaar 25 miljoen hektoliter bier gebrou in sy sewe brouerye, wat almal in of naby gasheerstede geleë is.
Hewitt het gesê van die reëlings wat nou getref word om tekorte te voorkom, sluit in die opberging van bykomende voorraad wat in April en Mei gebrou word.
Verkoelingsvoertuie sal ook gereed staan om tekorte aan te vul. In die proses sal SAB-voertuie na verwagting ’n bykomende 4 miljoen kilometer aflê om die bier na 56 000 verkooppunte landwyd te versprei.
Normaalweg word sowat 35 miljoen kilometer per jaar afgelê.
SAB maak ook staat op die feit dat Castle Lager die hoofborg van Bafana Bafana is en dat Suid-Afrikaners hul steun aan hul nasionale span en sy borge sal gee.
- Die Burger