Benni verras spanmaats, gee lyf aan Bafana-kamp
2010-05-13 08:01
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Eduan Roos
Johannesburg - Bafana Bafana se voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi het Woensdag ’n onverwagse, maar welkome hupstoot gekry toe Benni McCarthy hom by die Suid-Afrikaners se oefenkamp in Johannesburg aangesluit het.
McCarthy, wat die naweek nog op die plaasvervangerbank gesit het vir sy klubspan, West Ham United, se gelykopstryd teen Manchester City in die Premierliga, is een van vier oorsese spelers wat nou reeds saam met hul spanmaats slyp.
Dié 32-jarige doelskieter, asook Rowen Fernandez, doelwagter van die Duitse klub Arminia Bielefeld, Bernard Parker, doelskieter van FC Twente in Nederland, en die verdediger Bevan Fransman (Maccabi Netanyahu, Israel) het almal vroeër as verwag in die land aangekom.
McCarthy, Parker en Fernandez behoort ál drie speelkans te kry, wanneer Bafana Sondag in die splinternuwe Mbombela-stadion in Nelspruit teen Thailand uitdraf.
Kaartjies vir dié wedstryd is reeds uitverkoop en nagenoeg 30 000 toeskouers word verwag.
Carlos Alberto Parreira het verlede week altesame 10 Suid-Afrikaners wat hul sokker in Europese ligas speel by sy voorlopige groep ingesluit vir dié toernooi, wat oor minder as ’n maand begin.
Dié afrigter wag egter nog op die aankoms van Steven Pienaar (Everton, Engeland), Kagisho Dikgacoi (Fulham, Engeland), MacBeth Sibaya (Ruben Kazan, Rusland), Tsepo Masilela (Maccabi Haifa, Israel), Aaron Mokoena (Portsmouth, Engeland), Bryce Moon (PAOK, Griekeland) en Anele Ngcongca (Racing Genk, België).
* McCarthy sukkel die afgelope seisoen met beserings en sy gewig en het selde ’n wedstryd vir die Hammers begin, sedert hy in Januarie by dié span aangesluit het.
Bafana se onlangse doeldroogte maak van dié veteraan egter ’n seker keuse in Parreira se uitsoekgroep van 23, wat teen 1 Junie aankondig moet word.
McCarthy het reeds 32 doele in 78 wedstryde vir die Suid-Afrikaners aangeteken, maar sy gereelde weiering om vir die nasionale span te speel, het sy reputasie geknou.
Volgens Parreira getuig sy besluit om hom na Suid-Afrika te haas van sy vasberadenheid om in WB 2010 te speel – veral aangesien hy sy gebruiklike vakansie ná die Engelse seisoen skynbaar afgelas het.
Die Suid-Afrikaners sal ook teen Bulgarye (op 24 Mei), Colombia (27 Mei) en Denemarke (5 Junie) te staan kom, terwyl die land se sokkerbase steeds spook om ’n kragmeting met Brasilië, die wêreld se voorste span, en Lionel Messi se Argentinië te bevestig.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24