Bafana tree met eer uit stryd teen Mexiko
2010-06-12 07:00
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Die Burger
Soweto - Suid-Afrika het sy eerste vuurdoop oorleef en die grootste sokkerparty in sy geskiedenis het begin.
Bafana Bafana kon nie vir die droom-opening sorg nie, maar het wel eindelik met 1–1 gelykop teen Mexiko gespeel. Dit was egter genoeg vir die miljoene aanhangers landwyd om met “olé! olé!” te vier dat die nasionale span met eer uit die stryd getree het.
In Kaapstad het sowat 30 000 mense saamgetrek en net voor 18:00 het die stad laat weet drie van die vier amptelike jolkolle is vol. Die onophoudelike gezoem van vuvuzelas het dit soos ’n byenes laat klink.
Terwyl na raming sowat 1 miljard mense wêreldwyd se oë op Soccer City in Soweto gevestig was, het die openingseremonie kleurryk en vlot verloop.
Boonop het die nasionale span gesorg vir hul beste vertoning in jare deur gelykop teen Mexiko te speel.
Die 84 490 toeskouers het, ondanks die koue, bankvas gesit.
Dit was ’n lang dag vir die aanhangers. Reuse-verkeersknope was vroeër aan die orde van die dag in Gauteng.
Motors vol raserige ondersteuners met vlae en vuvuzelas het kilometers ver opgehoop – op paaie na Soweto én die twee ondersteunersparke in Sandton en Centurion. In Sandton was die bier so teen skemer opgedrink.
Bafana Bafana het self later by die stadion aangekom as wat beplan was omdat hul konvooi deur die verkeer gesukkel het.
Die stadion was gevolglik ook nie vol teen die tyd dat die openingseremonie, wat gekenmerk is deur kleurryke kostuums en dansery, om 14:00 begin het nie.
Maar teen 16:00 was Soccer City se Afrika-kalbas volgepak en gereed vir die belangrikste sokkerwedstryd in die land se geskiedenis.
Bafana kon toe nie op Madiba-magicstaatmaak nie. Oudpres. Nelson Mandela was nie daar nie omdat sy agterkleindogter gister vroeg op pad huis toe ná die afskopkonsert in ’n motorongeluk dood is.
Pres. Jacob Zuma het aan toeskouers gesê Mandela sou graag daar wou wees om hulle te groet.
“Hy het gesê die toernooi moet begin en ons moet die wedstryd geniet.”
Zuma en Sepp Blatter, Fifa-president, het die skare voor die afskop toegespreek.
“Hier is ons. Die Wêreldbeker is in Afrika. Dankie en geluk,” het Blatter gesê.
Die stryd met die Mexikaanse ondersteuners is voor die afskop al beslis. ’n Groep Mexikaanse aanhangers het begin om “Mexico, Mexico!” te skree, maar is vinnig deur die Afrika-trompet oordonder.
Die vuvuzelas se lawaai was net stil toe die twee lande se volksliedere gesing is.
“Daardie eerste 10 minute het dit gelyk asof ons bomskok het en ons het Mexiko heeltemal te veel beweegruimte toegelaat,” het die Bafana-afrigter, Carlos Alberto Parreira, gisteraand gesê.
Bafana het aanvanklik gesukkel, maar al sterker begin lyk en vroeg in die tweede helfte, in die 55ste minuut, het die middelveldspeler Siphiwe Tshabalala met skitterende skietwerk die eerste doel van die toernooi aangeteken.
Hoewel Mexiko sowat 25 minute later die telling 1-1 gemaak het, kan Bafana Bafana hul koppe hoog hou. Hulle was ongelukkig om nie nog twee doele aan te teken nie.
Danny Jordaan, hoof van die plaaslike reëlingskomitee, het gesê hulle kon nie vir ’n beter openingsdag gevra het nie.
“’n Vol stadion, ’n gasheernasie wat wíl wen, ’n ongelooflike atmosfeer en skitterende sokker. Dit is fantasties dat die eerste doel van Afrika se eerste Wêreldbeker-toernooi deur Suid-Afrika aangeteken is. Ons kon nie ’n beter draaiboek geskryf het nie.”
Bafana se tweede wedstryd is Woensdag in Pretoria teen Uruguay.
- Die Burger