Bafana se sterre in aanvraag
2010-03-30 08:32
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Johannesburg – Dit is nie nét Carlos Alberto Parreira, Bafana Bafana-breier, wat hoop dat Steven Pienaar en Aaron Mokoena hulle eersdaags by sy sokkerspan sal aansluit nie.
Dié twee sleutelspelers vir Bafana in die Wêreldbeker-veldtog in Junie en Julie in Suid-Afrika is hoog op die inkopielys van die spogklubs in die Engelse Premierliga, berig Kickoff.com.
Parreira het voorverlede week gesê hy wens hy het “ses of sewe Pienaars” in sy Wêreldbeker-groep en opnuut die hoop uitgespreek dat dié buksie, asook Mokoena, Benni McCarthy, Kagisho Dikgacoi, Bernard Parker, MacBeth Sibaya en Tsepo Masilela hulle in Mei by die Suid-Afrikaners se laaste oefenkamp in die Goudstad kan aansluit.
Dié spelers is almal steeds by hul onderskeie Europese klubs en was nie beskikbaar om Bafana se toere na Brasilië of Duitsland mee te maak nie.
Pienaar, wat ’n droomseisoen vir Everton beleef, is glo in Harry Redknapp, Tottenham Hotspur-breier, se visier, terwyl Chelsea ook in die tou staan om dié speler se dienste te probeer verkry.
Spurs en die Blues sal egter sowat R?140 miljoen vir dié 28-jarige middelveldspeler moet opdok wat in die laaste jaar van sy kontrak by die Toffees is.
Mokoena kan hom eersdaags by Wolverhampton Wanderers bevind.
Mokoena se huidige span, Portsmouth, is onlangs bankrot verklaar en verskeie van Pompey se spelers wil glo die hasepad kies.
Intussen het Lebohang Mokoena erken dat hy bloot ’n buitekans het om Parreira se uitsoekspan vir WB2010 te haal.
Mokoena is een van die 29 spelers wat tans in Brasilië slyp nadat hy verlede seisoen nog gesukkel het om speelkans by Orlando Pirates te kry.
“Ek het nooit gedink dat ek hier sou wees nie, maar ek besef ek het nog ’n lang pad om te stap,” het Mokoena aan Timothy Molobi gesê.
“Selfs al haal ek nie die finale span nie, was dié steeds ’n ongelooflike ervaring en sal daar nog heelwat kanse vir my wees.”
Mokoena-hulle pak Paraguay môreaand in die laaste van hul kragmetings in Suid-Amerika voordat hulle na Duitsland reis vir die volgende oefenkamp.
- Sport24