Bafana kamp nou by Wits
2010-03-12 07:58
In-diepte Verslae
Die regering het R10,2 miljoen opgedok vir ’n luukse suite om Afrika-staatshoofde en ander hooggeplaastes tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi te onthaal.
Meer Suid-Afrikaanse kunstenaars gaan by Fifa se Wêreldbeker-konsert by die Orlando-stadion optree, het vervaardigers gesê.
Eduan Roos
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Wêreldbekerspan kan uiteindelik nesskop – minder as drie maande voordat sokker se grootste skouspel in sy agterplaas begin.
Leslie Sedibe, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse sokkervereniging (Safa), het Donderdag gesê die Sturrockpark-sportkompleks, wat deur die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) besit word, sal Bafana Bafana se basiskamp wees voor én tydens die maandlange toernooi.
Safa was die afgelope weke pal in die spervuur weens sy gesloer om ’n basiskamp te bevestig, ondanks die feit dat Fifa, die Internasionale Sokkerfederasie, reeds in Mei 2004 aangekondig het dat WB 2010 in Suid-Afrika sal plaasvind.
Bafana is die laaste van die 32 deelnemende lande om ’n kampplek te finaliseer, hoewel spanne reeds teen einde Januarie moes aandui waar hul sou voorberei.
Die span sou aanvanklik by Esselenpark se Sentrum vir Uitnemendheid in Kempton Park slyp, maar dié geriewe is so vervalle dat dit sowat R16 miljoen sou kos om dit op standaard te kry.
Voornemens om die Sandown High School in Sandton te gebruik het ook gesneuwel weens, wat Safa ‘n “kommunikasiegaping” noem.
“Dis ’n vernedering vir Suid-Afrikaanse sokker,” het Sedibe gister gesê.
“Ons is die laaste ruk deur die media gekap, maar ons het nooit ’n kontrak met dié skool onderteken nie.
”Nederland,een van die groot gunstelinge om op 11 Julie as wêreldkampioen gekroon te word, sal ook van Wits se geriewe gebruik maak.
Volgens Sedibe sal die Nederlanders egter die oostelike deel van die kompleks – en Bafana die westelike kant – gebruik.
Bafana se oefenkamp in Brasilië het reuse-mediabelangstelling ontlok, nadat die afrigter, Carlos Alberto Parreira, vroeër gesê het die span sal in sy tuisland voorberei “om uit die kollig in Suid-Afrika te kom”.
Die Suid-Afrikaners sal in 4 oefenwedstryde teen Brasiliaanse klubs litte losmaak, voordat hulle op 31 Maart teen Paraguay te staan kom.
“Ek het nog nooit soveel joernaliste by ’n oefening gesien nie,” het Parreira gister gesê.
“Dit bewys dat die Brasiliane baie ernstig is oor hul sokker en dat dit nie ’n fout was om hierheen te kom nie.”
- Sport24